Oor die jare heen het daar al menige groot filmtreffer gedraai waar die onbesonge held of vreesaanjaende boef ’n masker dra, óf om sy identiteit geheim te hou, óf om grillerige letsels uit vorige skermutselings weg te steek! Maar die interessantheid lê daarin dat die oomblik wanneer die gewone Jan Alleman se gesig agter die masker verdwyn, hy ’n persoonlikheidsverandering ondergaan!

En dan die filosofiese vraag: Word hy die held, ’n ligdraer onder die dekmantel, of word hy die gesiglose vyand en doemprofeet van neerslagtigheid en depressie?

Nadat ek die afgelope week die huis moes verlaat, met ’n masker, dink ek heel anders oor die einste filosofiese vraag, want maskerdra is glad nie so eenvoudig soos wat dit in die films lyk nie!

Hier is ’n paar praktiese feite oor maskerdra wat ek na my eie ervaring kan bevestig:

  • Dis baie warm en ’n mens voel gou benoud.
  • Dis glad nie gemaklik nie en jou bril wasem gou-gou toe.
  • Dit pas nie noodwendig by jou uitrusting nie.
  • Om te gesels met iemand is amper onmoontlik en van gesigsuitdrukkings is daar nie sprake nie.
  • Die meeste mense was onherkenbaar, wat ’n mens nogal ontsenu.
  • Om ’n oproep te maak of te ontvang vanaf die “hoofbasis” is problematies.

En hier doen die geleentheid hom ongenooid en baie ontydig voor vir ons elkeen, om te midde van ’n wêreldkrisis ’n masker te dra! Of dit nou gemaklik is of nie!

Gaan ons kies om ’n gemaskerde heldin of ’n martelaar te wees?

Liewe Suster, gryp jou masker, sanitiser-swaard én handsak en durf die nuwe wêreld as Covid-heldin aan! Versprei die goeie nuus dat die Here steeds in beheer is. Hy ken steeds elke gesig agter elke masker. ’n Masker keer net die kieme, maar jou positiewe uitreik na ander raak steeds harte aan.

Gebruik jou geheime wapen – die Heilige Gees. Jy as gemaskerde onbekende kan jou “superkrag” ten toon stel deur te help veg teen die onsekere gevoelens wat ’n kollega dalk onderkry of moedeloosheid wat jou vriendin wil oorweldig.

En jou kragtigste wapen – gebed – kan selfs mense aan die ander kant van die wêreld bereik, beskerm en red!

En as jy weer veilig tuis is by jou “hoofbasis”, haal jou masker af en herlaai. Kniel in gebed en sê dankie dat hierdie onverwagte geleentheid jou pad gekruis het om vir baie ander ’n geloofsheldin te wees. ’n Soldaat in die linies van die Koning van die wêreld, toegerus met sy wapenrusting…

As jy oor maande van nou af weer sonder sorge in ’n filmteater die passies van ’n nuwe gemaskerde superheld geniet, kan jy terugdink aan jou eie super-vrou-dae. Toe jy met jou blommetjies-masker, gewapen met geloof en hoop, die wêreld aangedurf het. Toe jy jou man, kinders, vriendin en verbygaande vreemdeling bygestaan, bemoedig en versterk het, en hulle daaraan herinner het dat die stryd reeds meer as 2 000 jaar gelede gevoer en oorwin is!

NHSV Streeksvoorsitter Hoëveldstreek en predikantsvrou Gemeente Secunda

af
af
Deel met behulp van
Copy link