Dís die onmoontlike vraag wat ek, en William Shakespeare se Hamlet, in ’n hoek gedryf, vra.

’n Geliefde stoei met kanker. Menslik gesproke, was die diagnose al ’n doodsvonnis. Dog, wonderbaarlike “opstandings” het ons nou al drie keer in drie maande laat besef: Vir God voorspel jy nie.

Sy wou al dikwels dood, sy kon nog net nie daarin slaag nie. Nou, noudat die skrif aan die muur is, wil sy leef, verbete leef! (Kanker maak jou kop gesond?)

Om te bly leef, leer ons nou, kos ’n fortuin, en nie ’n klein fortuin nie. Leukemie is van doodgaan een van die duurste opsies. Mediese fonds, die fonteintjie waaruit ons gehoop het om lewegewende chemo te kon skep, is soos die boorgate teen Mariepskop, uitgeput, sonder teken van reën.

Ons gooi velletjies bymekaar, tel ons sente oor en oor in die hoop dat hulle rande word, honderdduisende rande. Maar die medisyne is te duur. Die kanker hou ons gyselaar, en besef nie dis vergeefs nie: Die geld het ons nie.

Die staat wil daar iets aan doen, nes Brittanje. Dáár werk dit goed. Dit ís ’n rein gedagte, ’n mooi  sandkasteel. Dit verg egter uitsonderlike vaardighede, onwrikbare verbintenis en ’n bodemlose put. Private gesondheidsorg is peperduur, maar danksy winste bestaan dit darem nog: Dis darem nog dáár, vir wie dit kan koop. En als wat jy met geld kan koop, bly tog ’n winskoop, het ek geglo.

Die duurste gesondheid is tog goedkoop as dit jou net help lewe, mos, en wie onder ons stel ’n prys aan die sorg van ’n ma? Die kinders maak teen wil en dank plan. Hulle sal skuld maak, al roei dit hulle uit. Want die alternatief is grusamer: Kies hulle dat hul ma sonder die beskikbare dog onbekostigbare behandeling moet bly, gaan hulle moet toekyk hoe sy kwyn.

Duur het ook wreed geword. Geld ken geen genade nie. Geld is ’n bose god. 

So van duur peper gepraat: Lennon se dulsies en duiwelsdrek, drank en drukkies is goedkoper, en skrale troos. Dis al wat ons het. En God: Dood is ’n moet, opstanding sál gebeur, lewe is seker. Dit troos, dis moeilik.

Hoe het dit gebeur dat ons met geld lewe moet koop? Of het geld ons maar nog altyd hier aan die lewe en uit die dood en hemel uit moes hou? Ek vermoed God gaan dit nie bly duld nie.

∗ Marianna la Grange is minder as twaalf ure later dood.

Share via
Copy link
Powered by Social Snap