DIE SKRIFBESKOUING VAN PHILIPP MELANCHTHON[i]
Prof IWC (Natie) van Wyk
Emeritus
8.1. Inleidend
Philipp Melanchthon (1497-1560) was sedert 1518, as 21-jarige, professor in Grieks in Wittenberg. Hy was die jonger kollega van Martin Luther. Hy en Luther het lewenslank ’n hegte kollegiale band gehandhaaf. Al het hulle hier en daar verskil oor hoe standpunte geformuleer moes word, was daar nooit werklike teologiese verskille tussen hulle nie. Oor die verstaan van die Bybel – behalwe in kleiner eksegetiese aangeleenthede – het hulle nie juis verskil nie. Een rede hoekom daar aan Melanchthon aandag gegee moet word in ons debat oor ‘Skrifbeskouing’, het met die feit te make dat hy die evangeliese teoloog was wat eerste ’n slagspreukagtige uitspraak oor die Skrif voorberei het, waarmee die verskille met die Rooms-Katolieke teoloë uitgespel is. Die stellings wat hy vir sy eie teologiese eksamens, kort ná die Disputasie van Leipzig (1519), opgestel het, het gelei tot die slagspreuk sola scriptura.
Nog ’n rede is dat Melanchthon die eerste belydenisskrifte van die Evangeliese Kerk in 1530/31 opgestel het. Die Confessio Augustana en sy Apologie is daarom belangrike bronne vir ’n besinning oor die Skrif. ’n Mens sal verwag dat daar in die belydenisskrifte uitsprake oor die verstaan van die Skrif sal voorkom, maar soos aangetoon sal word, is daar byna geen uitsprake oor die Skrif gemaak nie. Ons wat uit die Calvinistiese tradisie kom, behoort hiervan deeglik kennis te neem. Melanchthon was ’n eksegeet wat talle belangrike kommentare geskryf het. Sy kommentare oor die Romeinebrief het die basis gevorm van sy sistematiese besinnings. Eksegetiese metodes en teologiese standpunte loop hand aan hand by Melanchthon – iets wat weer van belang is in ons tyd. Aangesien daar min aandag aan sy kommentaar op die Romeinebrief in die navorsing gegee word, bied hierdie artikel ’n geleentheid om dit te doen. Sy kommentare oor die Kolossensebrief het die besinnings oor die Christelike etiek op ’n bepaalde koers geplaas.
Juis omdat Calvyn en sy volgelinge Melanchthon verkeerd verstaan het, is dit belangrik om terug te keer na dít wat hy aanvanklik gesê het. ’n Laaste rede vir bemoeienis met Melanchthon se verstaan en gebruik van die Skrif, is dat hy die eerste sistematiese teoloog van die Evangeliese Kerk was. Hy was dus, met ander woorde, die eerste teoloog wat boeke gepubliseer het op grond van sistematiese nadenke oor die inhoud van die Skrif.
8.2. Kollegas en bondgenote: Luther en Melanchthon
’n Slagspreuk (Jung 2010:7) lui: ‘Die Reformasie verdank Luther die impulse, maar Melanchthon die gestaltegewing’. Danksy sy enorme skriftelike nalatenskap en sy invloed op die ekumene[ii], universiteitswese, skoolsisteem, politiek en kultuur, dra Melanchthon die eretitel leermeester van Duitsland en Europa (praeceptor Germaniae et Europae). Luther het vanaf Melanchthon se intreerede in 1518 besef dat hy in hom ’n formidabele bondgenoot gehad het. Sonder Melanchthon, sou Luther nie die Kerkhervorming suksesvol kon deurvoer nie. Aangesien hulle oor min teologiese kwessies verskil het, is die Melanchthon-navorsing ook vir ons in die Hervormde Kerk van belang. Dit is veral hul gelyksoortige verstaan en hantering van die Skrif wat vir ons nuwe helderheid te midde van die groeiende verwarring en onsekerheid kan bring.
8.3. Die Leipzig Disputasie (1519) en sola scriptura
Melanchthon (saam met Johann Agricola en ’n aantal studente) het Luther en Andreas Bodenstein von Karlstadt na Leipzig vergesel vir ’n disputasie[iii] wat dáár met Johannes Eck tussen 27 Junie en 15 Julie 1519 plaasgevind het. In die disputasie tussen Johannes Eck en Martin Luther oor die pous, het ’n ingrypende skuif in teologiese denke na vore getree.
Volgens die Middeleeuse teologiese tradisie was die pous iure divino (volgens Goddelike reg), die hoof van die kerk. Hierteenoor het Luther gestel dat net Christus die hoof van die kerk kan wees. Volgens Luther kan die primaatskap van die pous nie uit die ‘wêreldlike reg’ óf die ‘kerkreg’ afgelei word nie. Dít kan slegs vanuit die Skrif afgelei en bevestig word. Die ‘Skrif alleen’ en nie die tradisionele kerklike reg nie, moet in ’n belangrike saak soos hierdie die deurslag gee. Luther argumenteer dat die primaatskap van die pous nie op grond van Matteus 16:18-19 verdedig kan word nie, aangesien só ’n oortuiging op ’n verkeerde eksegese van hierdie gedeelte berus. Al het enkele kerkvaders aan die pous die Petrus-amp toegeken, het die Skrif en nie die vaders nie, die laaste woord. Die Bybel kan nie vanuit die perspektief van die vaders gelees word nie, maar die vaders moet aan die Skrif getoets word. Die hermeneutiese tradisie van die kerkvaders is dus nie bo Skriftuurlike kontrole verhewe nie, maar daaraan ondergeskik. Die konflik tussen Eck en Luther was die stryd om die primaatskap tussen teologiese tradisie en Bybelse eksegese.
Die konsekwensie van Luther se ‘Skrifverstaan’ was dat hy die hele kerklike hiërargiese ampstruktuur moes bevraagteken. Hy herinner Eck aan die Vroeë Kerk waar priesters en biskoppe gelyke status geniet het. Dít het hom egter ná aan die argumente van die veroordeelde ketter, Johannes Hus, gebring wat in 1415 tydens die Konsilie van Konstanz tereggestel is. Eck omskep verdediging in aanval en beskuldig Luther dat hy (net soos Hus), by implikasie, die gesag van konsilies ondergrawe. Luther hou egter konsekwent by sy standpunt en stel dat konsilies wel kan dwaal – en wel wanneer daar besluite geneem word wat nie met die Skrif in ooreenstemming is nie.
Die belangrike paradigmaverskuiwing wat hier plaasgevind het, is dat mensewoord en God se Woord onderskei is. Kerkreg is ondergeskik aan Bybelse eksegese en nie andersom nie. Sy ‘Bybelse Humanisme’ (Junghans 2019:133) het hom laat glo dat kerklike besluite en tradisie nie noodwendig Skriftuurlik begrond is nie, en daarom krities bevraagteken kan word en opnuut Skriftuurlik begrond moet word. Usansie en teologiese tradisie kan nooit die laaste woord in die teologie wees nie; die argumente vanuit die Skrif egter wel. By die Disputasie van Leipzig het die breuk tussen die Kerkhervormers en die Roomse Kerk duidelik plaasgevind – wat ’n bietjie later deur Melanchthon op skrif gestel sou word. Die breuk was ten diepste oor teologiese metodiek, naamlik die vraag oor die plek en rol van die Skrif in teologiese debatvoering (vgl Dingel 2019; Kohnle 2019:39-46).
Na afloop van hierdie disputasie het Melanchthon 24 stellings opgestel wat hy in ’n disputasie in Wittenberg suksesvol verdedig het. Met stellings 16 en 17 het hy die eerste evangeliese teoloog geword wat stellenderwyse, indirek, na ‘die Skrif alleen’ (sola scriptura) verwys het. Hy ([1519] 2011a) stel:
- Vir ’n Christen is dit nie noodwendig, om buiten die dinge wat aan hom deur die Skrif betuig word, aan nog ander dinge te glo nie.
- Die gesag van die konsilies moet geringer geag word as die gesag van die Skrif self. (p. 18; [vertaling deur die outeur])
Met hierdie stellings het Melanchthon bevestig wat Luther in Leipzig gedisputeer het, naamlik dat niks heilsnoodwendig kan wees wat nie in die Skrif staan nie, soos gehoorsaamheid aan die pous in Rome. Die sola scriptura-prinsiep was dus die gevolg van die differensie-hermeneutiek wat teenoor die Roomse Kerk gevolg is, en sowel Luther as Melanchthon sou later bevestig dat die slagspreuk sola scripura, ‘nie net geldig is nie, maar ook waar’ (Leppin 2019:196).
8.4. Die belydenisskrifte (1530/31)
Melanchthon was die opsteller van twee van die eerste Protestantse geloofsbelydenisse, naamlik die Confessio Augustana van 1530 en die Apologie op die Confessio Augustana van 1531. Opvallend is dat Melanchthon nie ’n artikel oor die Skrif ingesluit het nie. Daar is dus nie iets soos ’n ‘Skrifbeskouing’ in die Confessio Augustana nie. Vir hom (en die ander eerstegeslag-reformatore) het dit oor die evangelie van Jesus Christus gegaan. Hierdie evangelie kan net op één plek gevind word, en dit is in die Bybel soos wat hulle dit in daardie tyd geken het. Vrae oor die ‘gesag’ en die ‘inspirasie’ van die Skrif was in daardie stadium nie ter sake nie.
In die Apologie, wat uitgebreide kommentaar en verduidelikings oor die Confessio Augustana bevat, is daar wel enkele belangrike uitsprake oor hoe die Skrif gelees moet word. Hierdie uitsprake is voortdurend in die verskillende uitgawes van sy Loci verduidelik, en sal by die bespreking oor hierdie ‘dogmatiekhandboeke’ verdere aandag geniet. Die eerste belangrike uitspraak kom voor in die artikel (IV) wat oor die regverdiging handel. Die kern van die evangelie handel oor die tema van die regverdiging. Om die goeie nuus oor die regverdiging reg te verstaan, moet die twee hooftemas van die Skrif, te wete wet en beloftes oor Christus en sy werk, geïdentifiseer en onderskei word. Onder ‘wet’ word die ‘sedewet’ wat in die tien gebooie saamgevat word, bedoel. Wette oor Joodse seremonies en die staatswese is nie ter sake vir die kerk nie. Die onderskeid tussen wet en evangelie, moraal en geloof, handeling en belofte, is die vertrekpunt van die Reformatoriese Skrifverstaan. Indien hierdie vertrekpunt nie aanvaar word nie, kan daar nie sprake wees van ʼn Reformatoriese omgaan met die Skrif nie (vgl Dingel 2014:98-99. 267-397).
Die volgende aspek wat oor ‘Skrifbeskouing’ aandag kry, is die tema van ‘Skrifbewyse’ vir leeruitsprake – hier die tema van boetedoening of bekering (artikel XII – vgl Dingel 2014:106-107. 434-510). Melanchthon beskou die Bybel nie as ’n versameling leeruitsprake nie, óf anders gesê: die leeruitsprake van die kerk word nie as stellings in die Skrif gelees nie. Wanneer die kerk poog om te leer wat onder ’n bepaalde onderwerp verstaan kan word, moet sodanige leer op Skrifgedeeltes berus. Leeroortuigings wat nie ’n Bybelse basis het nie, kan nie aanvaar word nie. Die probleem vandag is dat etiese menings (wat dikwels op ’n baie dun Bybelse basis berus) op ons afgedruk word as leerstellings. Ons behoort dus wakker te wees vir hierdie kullery. Die begin van die wakker-wees-proses is egter om seker te maak dat die ‘evangelies van vandag’ op behoorlike Bybelse argumente berus. Media-uitsprake mag tog nie die aard en karakter van die kerklike verkondiging bepaal nie!
Die laaste opmerking wat ek uitlig oor Melanchthon se verwagtinge oor Skrifhantering, het te make met die misbruik van die Skrif. In die afdeling oor belydenis en genoegdoening maak Melanchthon beswaar teen die misbruik van die Skrif om eie, vreemde, onaanvaarbare teologiese uitsprake te begrond. Om die Bybel te laat buikspreek, is nie aanvaarbaar nie. Om die Bybel te misbruik vir bedenklike sosiaal-politieke ideale of verwronge teologieë, pas nie by ’n respekvolle omgaan met die Skrif nie.
8.5. Melanchthon die eksegeet
Melanchthon was ’n humanis. Dit beteken dat hy oortuig was dat die mense van sy tyd inspirasie uit die klassieke geskrifte van die antieke tyd moet put. Hy het daarom geglo dat die oorspronklike bronne van die Europese beskawing opgediep en nuut bestudeer moes word (ad fontes). Om dít te kon doen, moes die antieke tale weer aangeleer word. Naas Latyn, moes Grieks en Hebreeus weer bestudeer word. Dít het meegebring dat die bestudering van die Bybel by die nuwe vaardigheidsvlakke gebaat het. Teologiese eksegese kon daarom danksy die humanistiese gees, nuwe vlakke van wetenskaplikheid bereik (Jung 2010:15-17; Kuropka 2010:11-23; Scheible 2016:12-33). Melanchthon ([1518] 2011b) het reeds met sy intreerede as 21-jarige professor in Grieks in Wittenberg die volgende belangrike uitspraak gemaak:
“Eers, aan die hand van die oorspronklike tekste, sal die woorde [van die Bybel] in hulle glans en werklike betekenis ontsluit word, en terselfdertyd, soos in die stralende lig van die middagson, sal die ware en werklike betekenis van die letters waarna ons opsoek was, aan ons geopenbaar word.” (p. 62; [vertaling deur die outeur])
Die bestudering van die Bybel vanuit die oorspronklike brontale is hoofsaaklik aan Melanchthon te danke. Dit is egter nie genoeg om Melanchthon te respekteer vir sy bydrae oor die tale nie. Sy bydrae oor die eksegese moet ook waardeer word. Een van die kenmerke van Melanchthon se eksegetiese metode was om Bybelboeke in hul geheel te bestudeer. Om te ondek wat ’n bepaalde outeur wou sê, is dit belangrik dat die hele Bybelboek bestudeer moet word. Uit enkele, losstaande gedeeltes of teksverse, kan die boodskap van die outeur nie reg begryp word nie. Die geheel van ’n bepaalde Bybelboek laat deurskemer wat die sentrale boodskap is. Een hoofstuk, of enkele teksverse, laat nie hieraan reg geskied nie. In sy wydingsbrief van sy kommentaar van 1529 op die Romeinebrief het hy ([1529] 2000) sy oortuiging soos volg geformuleer:
“Net so min as wat iemand die skoonheid en afmetings van ’n standbeeld vanuit sy dele kan bepaal wanneer hierdie standbeeld in stukke gebreek is, net so min sal iemand die bedoeling van ’n outeur kan vasstel wanneer hy nie die werk in sy geheel ken nie… Aangesien die brief van Paulus aan die Romeine van die belangrikste Christelike leerstellings bevat, en tegelyk ook ’n metode bevat wat op die ganse Skrif aangewend kan word, is dit nie voldoende om die een of ander vers uit hierdie brief uit te lig nie. ’n Mens moet die hele brief lees en daaroor nadink hoe die afsonderlike hoofstukke en hul onderafdelings sinvol saam pas en ineenvleg. ’n Mens moet na die sekere, volhoubare en eenvoudige betekenis van die leer van die apostel soek, sodat die noukeurige leser deur hierdie belangrike leer onderrig kan word.” (p. 471; [vertaling deur die outeur])
Melanchthon se Kommentaar op Romeine (1529/30/32[iv]) is ’n goeie voorbeeld van sy verstaan van hierdie brief sowel as die Skrif in sy geheel. Die Romeinebrief as geheel (en nie net vers 1:17 nie), is vir Melanchthon die hart van die evangelie. Die eksegetiese metode wat aangewend word, moet dus die sentrale boodskap van die evangelie na vore bring. ’n Metode wat dít nie kan doen nie, is nie geskik vir Bybelse eksegese nie.
Melanchthon konsentreer in sy kommentaar van 1532 op twee belangrike temas, te wete die vraag na die regverdiging en die vraag na die betekenis van die werke vir die heil van die mens. Ek konsentreer slegs op sy hantering van die vraag na die werke. Hy verdeel die vraagstelling in drie groepe: (a) die betekenis wat die werke het vir die mens se regverdiging; (b) die betekenis wat dit het vir geregverdigde mense; en (c) die betekenis van die werke vir Christenwees in die wêreld. Aan hierdie drie temas gee hy aandag in die gedeelte oor die regverdiging, by Romeine 6 en Romeine 12-15. Oorkoepelend wil Melanchthon twee dinge sê: Geen goeie werk dra by tot iemand se regverdiging nie, maar nogtans is goeie werke ’n bestanddeel van die gelowige se gehoorsaamheid aan God.
Melanchthon (soos Luther) se argument kom nie neer op die gedagte dat goeie werke nie gedoen moet word nie. Vanselfsprekend moet mense goeie werke doen – werke wat voldoen aan die eise van die wet – maar die vraag is wat motiveer mense, en wat stel hulle in staat om dit te doen? Melanchthon, op grond van Paulus, argumenteer dat die grond vir goeie werke die wete is dat die persoon deur God se barmhartigheid aanvaar word, en dat daar nie op sy werke of sy sedelikheid staatgemaak moet word as motivering nie. Die belofte dat ek as persoon waardigheid voor God besit, bevry my van die las om waardigheid deur my doen en late af te dwing – en dít is die evangelie soos wat ons dit in die Romeinebrief lees.
Een van die belangrike bydraes wat die Melanchthon-navorsing tot ons huidige debatvoering lewer, is die herinnering dat die Christelike geloof nie tot moraliteit verlaag mag word nie. Die vloedgolf van Christelik-etiese voorskrifte wat bloot bestaande staatswetgewing ondersteun of verder wil aktualiseer, is oorbodig en beteken niks vir enigiemand nie. Melanchthon het in sy kommentaar op die Romeinebrief daarop gewys dat Paulus se etiek nie uitvoerig genoeg is om maatskaplike gestaltegewing te bevorder nie. Die filosowe en wetgewers, daarenteen, het dit uitvoerig en grondig gedoen. Om hierdie rede steur wetgewers hulle nie aan die gebrekkige etiese voorskrifte van die Skrif nie. Met hierdie argumentvoering breek Melanchthon met die Middeleeuse tradisie wat die Skrif beskou het as ’n leerboek vir die moraal. Die Roomse teoloë het die saak van die Christendom verswak deur die Skrif met die filosowe te laat kompeteer oor ’n saak wat nie die kern van die Skrif raak nie, naamlik die reëls en regulasies vir die openbare orde. Paulus konsentreer nie op die openbare moraal nie, maar op die eksistensiële vraag na die regverdiging en die betekenis van Christus se weldaad vir die mensdom.
Melanchthon se betoog is dat die kerk hom met sy eie temas moet besighou, en nie napraters van denkers oor die maatskaplike lewe moet wees nie. Die kerk doen niemand ’n guns om bloot te herhaal wat die filosowe en regsgeleerdes (en sosioloë en sielkundiges) sê nie. Die kerk moet sy eie saak, en nét sy eie saak stel, hoe vreemd dit ook al vir ander mense mag klink. Baie oortuigingswerk moet dus deur die kerk gedoen word. Om te argumenteer (soos só dikwels in ons Kerk gehoor word) dat ons dit met dade doen en nie met woorde nie, plaas ons natuurlik terug by die oortuigings van die Roomse Kerk van die Middeleeue.
8.6. Loci communes (1521)
Nadat Melanchthon in September 1519 die graad Baccalaureus Biblicus behaal het, kon hy met groter vrymoedigheid lesings in teologie aanbied. Op 27 April berig hy dat honderde studente sy lesings oor die loci communes, dit is die hoofbegrippe van Paulus se brief, begin bywoon het. Die woord ‘hoofbegrippe’ (loci) het hy uit die klassieke retoriek oorgeneem. In die retoriek is daar destyds geleer dat goeie opvoedkundiges in staat is om die hoofbegrippe, óf die wesenlike temas van ’n belangrike geskrif, vir studente en belangstellendes te verduidelik. Melanchthon wou doelbewus breek met die Middeleeuse tradisie wat telkens gepoog het om ’n kompendium of ’n samevattende leerboek van die teologie (summa theologiae) aan te bied. Hy, daarenteen, wou eerder ’n inleiding tot die Bybelse teologie voorlê wat mense sou help om die Bybel reg te verstaan.
Met hierdie verklaring van die grondbegrippe van die Romeineboek het Melanchthon onbepland die eerste Reformatoriese sistematiese teologie voorgelê met die titel Grondbegrippe van die teologie, óf teologiese sketse (Loci communes rerum theologicarum seu hypotyposes theologicae[v]). Luther was só beïndruk met hierdie werk, dat hy gehoop het dat hierdie werk, naas die Bybel, deeglik bestudeer sal word as ’n poort tot die verstaan van die Bybelse boodskap (Jung 2010:23).
Dit is belangrik om te onderstreep dat hierdie ‘dogmatiekhandboek’ ’n breuk met die Middeleeuse skolastiek ingelui het. Ons het hier met ’n nuwe metode in teologiebeoefening te make. Hier gaan dit oor die hoofpunte of kerngedagtes van die Bybel – en meer spesifiek van die belangrikste Bybelboek, naamlik Romeine – en nie oor ’n kompendium of geslote sisteem van geloofsdenke[vi] nie. Die uitleg of verklaring van die hoofbegrippe as sodanig kan nie die belangrike wees nie, aangesien dit wil uitnooi om na die primêre bron, die Bybel, in die oorspronklike tale, terug te keer. In die wydingsbrief aan die waarnemende rektor van die Universiteit Wittenberg, Tilemann Plettener, stel Melanchthon ([1521] 1997) dat in hierdie geskriffie:
“… word die belangrikste hoofpunte van die Christelike leer aangebied, met die bedoeling dat die jeug kan verstaan waarna hulle hoofsaaklik in die Skrif moet soek… Ek doen dit nie om die studente van die Skrif weg te lok na ’n aantal donker en moeilike kwelpunte nie, maar om, sou ek kon, hulle nader na die Skrif self te lok” (p. 12 [outeur se vertaling])
Die hoofbegrippe van die Romeinebrief handel oor die volgende temas: die vermoëns van die mens (vrye wil); die sonde; die wet; die evangelie; die genade; die regverdiging en geloof; die onderskeid tussen Ou en Nuwe Testament; die tekens van God se genade (sakramente); die liefde; die owerheid en die aanstootlikhede.
Hier is duidelik nie ’n enkele hoofstuk in die Loci wat oor ‘Skrifbeskouing’ of ‘reëls vir Skrifhantering’ handel nie. Hierdie tipe vraagstellings was vir die eerstegeslag-reformatore nie van belang nie. Vir hulle het dit oor die sentrale boodskap van die Skrif, naamlik die evangelie van Jesus Christus, gegaan. In die lig van hierdie oortuiging, is uitsprake oor die lees van die Bybel gemaak. Melanchthon ([1521] 1997) argumenteer soos volg:
“Die [heilige] Skrif bestaan, in die geheel beskou, uit twee dele, wet en evangelie. Die wet hou die sonde voor oë, die evangelie die genade; die wet wys uit wat die siekte is, die evangelie die geneesmiddel. Die wet is die dienaar van die dood – om die woorde van Paulus te gebruik –, die evangelie [dien] die lewe en die vrede. ‘Die wet is die krag van die sonde’ [1 Kor 15:56], die evangelie is die ‘krag tot heil vir elkeen wat glo’ [Rom 1:16].” (p. 161; [vertaling deur die outeur])
Melanchthon ([1521] 1997:161) waarsku egter onmiddellik teen ’n misverstand: Die wet is nie net in die boeke van Moses en die evangelie nie net in die vier Evangelies te vinde nie. Die beloftes van genade en vergewing en uitsprake oor die wet kom in sowel die Ou as die Nuwe Testament voor. Die tye van wet en evangelie moet ook nie uitmekaargehaal word nie. In alle tye was en is daar toorn oor wetsoortredings, soos ook genade en vergewing vir die sondaars. Wet en evangelie kan mekaar in één hoofstuk afwissel. Dit bly egter belangrik om die evangelie nie met wetsvoorskrifte te verwar nie.
8.7. Loci praecipui theologici (1559)
Melanchthon het sy lewe lank aan die Loci gewerk. Hy het dit voortdurend verbeter en uitgebrei. Ons gee hier aandag aan die 1559-uitgawe – die laaste uitgawe waaraan hy self gewerk het voor sy dood op 15 April 1560. Hierdie uitgawe ([1559] 2018) word as sy hoofwerk beskou en word gebruik as die beste bron vir wetenskaplike navorsing.
In die voorwoord tot sy ‘versameling van teologiese leerstukke’ het Melanchthon ’n klompie opmerkings gemaak wat vandag dalk méér aktueel is as destyds. Dit gaan hoofsaaklik oor die vraag, hoe God (en die dinge aangaande God) geken word. Ek is daarvan oortuig dat die kerk, in sy amptelike besluite, nie van Melanchthon se standpunt kan afwyk nie. Melanchthon se vertrekpunt in die teologie is dat God aan mense die gawes van tel, meet en analiseer gegee het, met ander woorde, dat Hy ons die gawe van wetenskapsbeoefening gegee het. Melanchthon noem dit kortweg ‘filosofie’. In die filosofiese metode gaan dit om waarneming, verklaring en bewysvoering. In die teologie gaan dit nie om ’n bewysvoerende metode nie, maar om die soeke na dít wat God ons meedeel – en dít wat God ons wil meedeel (oor sy wil en begeerte), vind ons in die Skrif, en nêrens anders nie. In die filosofie (of wetenskap) word daar na sekerheid gesoek – sekerheid wat gevind word in ervaring en bewyse. Die leer van die kerk vind sekerheid nie in bewyse nie, maar in God se woorde wat aan ons gerig word (ook sy openbaring genoem). Die geloof, die kerk, die teologie vind sekerheid nie binne die menslike oordeelsvermoë nie, maar op grond van die verkondiging van die evangelie, binne die oortuigingswerk van die Heilige Gees. In teenstelling met die filosofie wat waarheidsaansprake op grond van bewysvoering doen, berus die waarheidsaanspraak van die kerk alleenlik op God se openbaring, wat ons in die Skrif vind. Waar die filosofie gekenmerk word deur voortdurende twyfel, is die kenmerk van geloof nie (voortdurende) twyfel nie, maar vertroue in die verkondigde evangelie, wat nêrens anders gevind word nie as in die boodskap van die profete en die apostels. Die evangelie wat verkondig word, berus op die geskiedenis van Jesus van Nasaret, maar historiese bewysvoering is nie die hoofbelangstelling van die teologie nie. Geloof, vertroue, gebed[vii] en oopstelling vir die werk van die Heilige Gees is waaroor dit in die kerk gaan (vgl. [1559] 2018:11-17).
8.8. Kernagtige samevatting van Melanchthon se verstaan van die Skrif
- Melanchthon se slagspreuk sola scriptura het oorspronklik die volgende beteken: Geen hermeneutiese raamwerk (selfs nie eens dié van die kerkvaders nie) kan aanhoudende, kritiese eksegetiese arbeid kniehalter nie. Geen interpretasietradisie staan kritiekloos teenoor ’n herhalende terugkeer na die Skrif self nie.
- Bybelboeke moet bestudeer word met die oogmerk om die kerntema van die boek te ontrafel, sodat hierdie kerntema kan meehelp om die evangelie (die sentrale boodskap van die Skrif) te verstaan.
- Die sentrale tema van die Skrif word saamgevat in die ‘regverdigingsleer’.
- Met die bestudering van die Skrif moet onderskei word tussen wet en belofte. Vir die Christen is die beloftes aangaande Jesus Christus die hart van die evangelie, en daarom van die Skrif.
- Die boodskap van die Skrif mag nie tot die enkele moraalskrifte wat daarin voorkom, verskraal word nie. Moraliteit sonder die beloftes van Christus, het weinig met die Skrif te make.
- Evangeliese teologie óf dan Protestantse teologie, was van die begin af ekumeniese teologie, wat beteken dat dit in terme van leer ooreengestem het met die belydenisse van die Vroeë Kerk.
- Die Bybelse gehalte van alle teologiese uitsprake en kerklike leer moet aanhoudend getoets word. Daar mag nie toegelaat word dat die Skrif misbruik word vir doeleindes wat nie uit die Skrif self na vore kom nie.
- Bybelboeke moet in hul geheel bestudeer word sodat die sentrale temas geïdentifiseer kan word.
- Die sentrale boodskap van die Romeinebrief het met die vergewing van sondes op grond van God se barmhartigheid te make. Wie nie kan onderskei tussen persoon en werke nie, verhef die goeie werke foutiewelik tot die hart van die Bybelse boodskap.
- Bybelse teologie beteken dat eksegese en dogmatiek mekaar wedersyds deurdring. Sonder hierdie deurdringing en beïnvloeding verval die teologie maklik in moralisme, biblisisme en fundamentalisme.
- Die dualisme van ‘gister’ en ‘vandag’ moet verwerp word. Wanner ‘gister se tekste’ niks met ‘vandag se vraagstellings’ te make het nie, het die kerk nie meer ’n reg op bestaan nie.
- Die Bybelleser se oogmerk moet wees om die hoofargumente van die Bybel te leer ken en te verstaan.
- Wet en evangelie moet duidelik onderskei word, maar nie geskei word nie. In sowel die Ou as die Nuwe Testament kan wet en evangelie waargeneem word.
- Wat Ou en Nuwe Testament aanmekaar bind, is die beloftes van God oor vergewing en nuwe lewe. Albei Testamente is deurdring van hierdie beloftes, en dáárom is ook die Ou Testament die Woord van God vir die kerk.
- Wie wil weet waaroor die Bybel handel, moet die profete, Evangelies, apostels en die belydenisse lees en bestudeer.
- Die Skrif is die enigste bron van kennis en sekerheid oor God. Die Woord van God is nie afhanklik van wetenskaplike bewysvoering nie, maar slegs van biddende bestudering, verkondiging en die werking van die Heilige Gees.
- Die Heilige Skrif moet in sy geheel gelees en bestudeer word.
- Die afsonderlike Bybelboeke moet in hul geheel bestudeer word.
- Verkondigers van die evangelie moet hulle aan die begrippe van die Bybel hou. Wie dít nie doen nie, neem mettertyd afskeid van die inhoud van die evangelie.
8.9. Die hedendaagse diskoers
Die Skrif kan nie uitgelewer word aan ’n hedendaagse sosiaal-politieke ideaal wat die eksegeet dwing om die Bybel in dienstigheid aan hierdie ideaal uit te lê nie. Die Skrif het sy eie boodskap, en hierdie boodskap moet eksegeties uitgegrawe word.
Dit is duidelik dat die sentrale tema van die Bybel soos dit saamgevat word in die boodskap van die regverdiging deur die geloof en die genade, nie meer die hoofbelangstelling van die Kerk is nie. In ons kerklike media word ons opgeroep om ‘’n verskil te maak’ en ‘terug te gee aan die gemeenskap’. Dit gaan om ’n etiese oproep om goed te doen. Hierdie vermoralisering van die kerklike boodskap gaan die Kerk nie staande hou óf laat groei nie, maar dit eerder vinniger laat wegkrimp.
’n Kerk wat in terme van gemeenskapsprojekte funksioneer en teologie wat in sosio-politieke bevryding opgaan, het min met reformatoriese teologie gemeen. Hedendaagse eksegese en hermeneutiek is dikwels meer geïnteresseerd om die sekulêre Westerse of Afrika-moraal te legitimeer. Sonde, wet en genade wek min belangstelling, terwyl die regverdiging deur die geloof ’n vergete tema is. Die rede hiervoor is die moralisering van godsdiens. Die oordrewe konsentrasie op moraliteit kan teruggevoer word na die vermyding van die tema ‘God’ – minstens in sy Bybelse gestaltes. ’n Ander rede is dat mense dink dat dit wat hulle doen, hul statuur bepaal. Melanchthon se kritiek op die Middeleeuse Skolastiek, dat die Bybel nie ’n handboek vir staatsleer of maatskaplike gestaltegewing is nie, moet vandag herhaal word, aangesien ons in terme van Skrifverstaan terug is by die grondoortuiging van die Roomse Middeleeue.
Die fragmentering van teologie aan die universiteite en in studeerkamers het bygedra tot ons permanente worsteling met biblisisme en fundamentalisme in hierdie land. Totdat eksegete weer sistematies wil dink en denkers oor die geloof weer met die Bybelse tekste stoei, sal die bose kringloop van verdagmakery, bespotting en selfregverdiging voortduur. Een van die redes hoekom predikante sukkel in gemeentes, is dat hulle nie die hoofargumente van die Bybel ken en kan verduidelik nie. Die verskraalde kennis van en vermoë om die sentrale temas van die Bybel te verduidelik, is die krisis van die kerk.
Een van die groot teleurstellings van ons eietydse teologie, is die ongesonde spanning tussen Ou Testament eksegese en die evangelie van Jesus Christus. Indien albei Testamente nie as skriftelike bodem van die evangelie hanteer word nie, verwoes ons die fondamente van die Christelike geloof. Wie teologie tot diens van die kerk wil beoefen, behoort groot klem te plaas op die beloftes van die profete oor die koms van die Messias, en die lewe en werk van Jesus Christus soos dit in die Evangelies beskryf en in die belydenisse saamgevat word. Belydenisvyandige teologie het min waarde vir ’n kerk wat die evangelie wil verkondig.
8.10. Literatuurverwysings
Dingel, I., 2019, ‘Die Leipziger Disputation 1519 in ihrem historischen Kontext: Verfahren – Realisierung – Wirkung’, in M. Hein & A. Kohnle, Die Leipziger Disputation von 1519: Ein theologisches Streitgespräch und seine Bedeutung für die frühe Reformation, pp. 9-24, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.
Jung, M., 2010, Philipp Melanchthon und seine Zeit, Vandenhoeck & Ruprecht, Göttingen.
Junghans, H., 2019, ‘Martin Luther und die Leipziger Disputation’, in M. Hein & A. Kohnle, Die Leipziger Disputation von 1519: Ein theologisches Streitgespräch und seine Bedeutung für die frühe Reformation, pp. 125-133, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.
Kohnle, A., 2019, ‘Die Leipziger Disputation und ihre Bedeutung für die frühe Reformation’, in M. Hein & A. Kohnle, Die Leipziger Disputation von 1519: Ein theologisches Streitgespräch und seine Bedeutung für die frühe Reformation, pp. 25-46, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.
Kuropka, N., 2010, Melanchthon, Mohr Siebeck, Tübingen.
Leppin, V., 2019, ‘Papst, Konzil und Kirchenväter: Die Autoritätsfrage in der Leipziger Disputation’, in M. Hein & A. Kohnle, Die Leipziger Disputation von 1519: Ein theologisches Streitgespräch und seine Bedeutung für die frühe Reformation, pp. 187-196, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.
Melanchthon, P., [1521] 1997, Loci Communes. Lateinisch – Deutsch, H.G. Pöhlmann (übers.), das Lutherische Kirchenamt der VELKD (Hrsg.), 2. Aufl. Gütersloher Verlagshaus, Gütersloh.
Melanchthon, P., [1529] 2000, ‘Widmung des Römerbriefkommentars’, in Briefwechsel. Kritische und kommentierte Gesamtausgabe. Regesten, H. Scheible (Hrsg.), Bd. 3, Nr. 767, p. 471, Heidelberger Akademie der Wissenschaften, Heidelberg.
Melanchthon, P., [1553] 2010, Heubtartikel Christlicher Lere, Melanchthons deutsche Fassung seiner Loci Theologici, nach dem Autograph und dem Originaldruck von 1553, R. Jenett und J. Schilling (Hrsg.), 2. aktualisierte und ergänzte Ausg. Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.
Melanchthon, P., [1519] 2011a, ‘Baccalaureatsthesen’, in Melanchthon deutsch. 2. Bd, Theologie und Kirchenpolitik, 2. korrigierte Aufl., M. Beyer, S. Rhein und G. Wartenberg (Hrsg.), pp. 17-19, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.
Melanchthon, P., [1518] 2011b, ‘Wittenberger Antrittsrede – De corrigendis adolescentiae studiis’, in Melanchthon deutsch. 1. Bd., Schule, und Universität, Philosophie, Geschichte und Politik, M. Beyer, S. Rhein und G. Wartenberg (Hrsg.), pp. 45-67, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.
Melanchthon, P., [1530] 2012a, ‘Kurzer Leitfaden zum Erlernen der Theologie – Discendae theologiae ratio’, in Melanchthon deutsch. 4. Bd., Melanchthon, die Universität und ihre Fakultäten, M. Beyer, A. Kohmle und V. Leppin (Hrsg.), pp. 148-154, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.
Melanchthon, P., [1549] 2012b, ‘Vorrede zur Schrift des Matthias Flacius Illyricus “De voce et re fidei” (“Vom Wort und der Sache des Glaubens”)’, in Melanchthon deutsch. 4. Bd., Melanchthon, die Universität und ihre Fakultäten, M. Beyer, A. Kohmle und V. Leppin Hrsg.), pp. 175-184, Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.
Melanchthon, P., [1559] 2018, Loci praecipui theologici nunc denuo cura et diligentia summa recogniti multisque in locis copiose illustrati 1559, Lateinisch – Deutsch, 1. Bd., P. Litwan, S. Grosse und F. Becher-Häusermann (Hrsg.), Evangelische Verlagsanstalt, Leipzig.
Scheible, H., 2016, Melanchthon: Vermittler der Reformation; Eine Biographie, C.H. Beck, München.
Eindnotas
[i] Hierdie hoofstuk is ’n verkorte weergawe van ’n artikel wat reeds voorheen in die Tydskrif vir Hervormde Teologie verskyn het, en te vind is by https://nhka.org/philipp-melanchthon-oor-die-verstaan-van-die-bybel-en-sy-boodskap/. Volledige verwysing: Van Wyk, I.W.C., 2020, ‘Philipp Melanchthon oor die verstaan van die Bybel en sy boodskap’, Tydskrif vir Hervormde Teologie Jaargang 8 Nommer 1.
[ii] Dit is belangrik om te weet dat die ouer Melanchthon ook ’n hegte band met Calvyn gehad het (Melanchthon is ’n eerstegenerasie- en Calvyn ’n tweedegenerasie- Kerkhervormer). Calvyn het hom in 1532 met sy ‘bekering’ tot die Reformasie deur Melanchthon laat beïnvloed, terwyl Melanchthon in 1536 van Calvyn se eerste uitgawe van sy Institusie kennis geneem het. Melanchthon se Loci (1521) het as riglyn vir Calvyn se Institusie gedien. Albei publikasies was ‘dogmatiekhandboeke’ wat Christene ook met die geloofslewe wou bystaan. In Maart 1539 het Calvyn vir Melanchthon die eerste keer in Frankfurt ontmoet. In 1540-’41 het Calvyn saam met Melanchthon aan die godsdiensgesprekke in Worms en Regensburg deelgeneem. Dáár het Calvyn ook die verbeterde uitgawe van Melanchthon se Augsburgse Geloofsbelydenis (Confessio Augustana Variata), as gesaghebbende belydenisskrif, onderteken. In hierdie tyd, en later weer in 1543, het Melanchthon Calvyn gewaarsku om eerder op die verkondiging van die sentrale evangeliese ‘leerstellings’ te konsentreer as om eindeloos oor die vraagstuk van die uitverkiesing of predestinasie te publiseer. Na hierdie raad het Calvyn geluister. Dit is nie waar nie dat die predestinasie die hart van Calvyn se leer uitgemaak het (kyk na Van Wyk 2018). Melanchthon en Calvyn het ’n uitgebreide briefwisseling gehad. Twee temas is van belang: Die Nagmaal en die Triniteitsleer. In die Servet-sage het Calvyn op Melanchthon se advies gesteun (vgl. Jung 2010:67-70).
[iii] In die Middeleeue en Vroeë Moderne was disputasies die belangrikste manier van akademiese gesprekvoering, kennisversameling en die presisering van waarheidsoortuigings.
[iv] Ek volg die afdrukke van die teks soos dit beskikbaar is in Kuropka (2018). Kuropka werk vanuit die 1532-weergawe wat wel in 1965 in ’n klein oplaag gedruk is, maar nie meer in die handel of in ’n Suid-Afrikaanse biblioteek beskikbaar is nie.
[v] Loci communes beteken letterlik ‘algemene plekke’. Die uitdrukking het egter mettertyd die betekenis van hoofpunte, óf hoofbegrippe, óf grondstellings, óf grondwaarhede gekry. Eeue ná Melanchthon is hierdie woorde gebruik vir die titels van dogmatiekhandboeke. Die woord hypotyposis is uit die Grieks oorgeneem en beteken voorbeeld, óf model, óf templaat (verduideliking van die vertaler H. Pöhlmann in Melanchthon [1521] 1997:12).
[vi] Dit gaan veral oor die monumentale werk van Petrus Lombardus (1095-1160) genaamd Sentenzen 1-IV, ’n versameling van uitsprake deur die kerkvaders oor die Godsleer, skeppingsleer, Christologie, deugdeleer, sakramente en eskatologie. Daar is in die Middeleeue geglo dat hierdie versameling van uitsprake genoegsame dogmatiese inligting verskaf en dat niks nuuts bygevoeg kan word nie.
[vii] Die lees van die Bybel moet volgens Melanchthon biddend gedoen word. Biddend, aangesien die Bybel ’n bestaans-relevante boek is. Dit bied hulp tot die verstaan van God, jouself en die wêreld. Aangesien hierdie literatuur oor sake van lewe en dood handel, moet dit nie alleen noukeurig gelees word nie, maar ook ernstig oordink en biddend hanteer word. Sonder gebed is die Skrif niks, het Melanchthon geargumenteer. Daar moet gebid word dat daar helderheid in jou gemoed sal kom oor die sentrale temas van die Skrif (Jung 2010:24).