Donderdag 8 Januarie – Die hemel getuig van die mag van God

Psalm 19: 1-15

Hierdie psalm is nog ’n pragtige poëtiese natuurpsalm. Dit verteenwoordig ’n interpretasie van die skepping. Daar is drie duidelike onderdele en dit is juis in die samehang tussen die dele waar ons die treffende boodskap van die psalm vind.

In verse 2 tot 7 skets die digter vir ons ’n makrobeeld. Hy vertel vir ons wat die ganse uitspansel oor die majesteit van God verkondig. Om sy uitsprake verstaanbaar te maak, stel hy daarna die hemel, dag en nag as mense voor. Hy sê hulle praat woordeloos, tog verkondig hul onhoorbare stemme tot aan die uithoeke van die aarde ’n boodskap oor die mag en majesteit van God.

In die tweede deel, verse 8 tot 12 stel die digter hoe die wet die wil van God openbaar. Die digter konsentreer slegs op ’n deel van die makrobeeld. Hy leer vir ons twee waarhede oor die wil van God. Die eerste: God openbaar sy wil in sy wet. Die tweede: God beloon gelowiges wat sy wet getrou onderhou met lewe, wysheid, blydskap en insig.

In die laaste deel in verse 13 tot 15 bring die digter die vorige dele bymekaar deur te stel dat hierdie kennis van wat die natuur en die wet oor God openbaar, die gelowige in sy verhouding met God wil versterk. In hierdie laaste deel fokus die digter op die kleinste deel van die makrobeeld. Dit gaan oor die enkeling se kennis en sy verhouding met God.

Psalm 19 leer ons om bekende dinge op ’n nuwe manier te sien. Dit sê: Sien die natuur vir wat dit is, ’n sigbare verkondiging van God se majesteit. Verder, verstaan God se wet as waarborg dat ons aan God behoort en dat Hy ons nie wil laat verlore gaan nie en derdens, voed jou geloof op albei hierdie verkondigings.

Gebed

Here, uit u skepping leer ek u majesteit sien; uit u wet die troos dat ek aan U behoort en dat U my redding bewerk. Albei versterk my geloof in U.  

Dr Gerhard Nel, Horison Roodepoort

Woensdag 7 Januarie – ’n Verbygaande spikkeltjie

Psalm 8: 1-10 Ons lees vandag weer Psalm 8, maar vanuit ’n ander perspektief. Die psalmdigter dink oor sy lewe: Here wat is die mens tog? As ek kyk na die werk van u vingers, die maan, die sterre, die groter geheel, wat is ek tog? ’n Verbygaande spikkeltjie. Die...

read more

Maandag 5 Januarie – Die wyfie moet jy laat wegvlieg

Deuteronomium 22: 6-7; Matteus 10: 29 Een van die wonderlikste eienskappe van God is dat Hy wat die Grote en Almagtige God is, Homself ter wille van ons ook so klein kan maak. Dit gebeur wanneer Hy intens en volledig by die klein detailtjies van ons lewens betrokke...

read more

Saterdag 3 Januarie – Voorneme om te ervaar

Hebreërs 4: 11-13 (AFR2020) Laat ons ons dan beywer om in daardie rus in te gaan, sodat niemand dalk in dieselfde patroon van ongehoorsaamheid verval nie. Want die woord van God is lewend en kragtig, en skerper as enige tweesnydende swaard. Dit dring deur tot by die...

read more

Vrydag 2 Januarie – Voorneme om te weet

Jakobus 1: 5-8 (AFR2020) As enigiemand van julle wysheid kortkom, laat hy dit vra van God, wat aan almal gee, sonder voorbehoud en sonder verwyt, en dit sal aan hom gegee word. Maar hy moet in die geloof vra, sonder om enigsins te twyfel, want wie twyfel, is soos ’n...

read more