Saterdag 19 September – God is aan ons kant

Psalm 56

Ek het op skool altyd so bietjie ongemaklik gevoel as ons voor ’n hokkiewedstryd gebid het. Natuurlik hoop en wens ons vir ’n wen, maar hoekom sal die Here óns dan nou laat wen – die ander span bid dan nou vir dieselfde ding? So ons het maar gebid dat niemand ernstig beseer word nie, dat ons lekker sal speel en dat ons die Here ook op die veld sal eer.

Dalk lê die kuns daarin om eerder te besef dat, wen of verloor, die Here altyd aan ons kant is. En dat die feit dat Hy aan ons kant is soveel meer beteken as dit waartoe ons dit baie keer wil reduseer. Daar is natuurlik oral om ons en in ons sigbare en onsigbare oorloë aan die gang. Maar die punt is, maak nie saak wat jou oorlog is nie, of wie jou opponent is nie – of dit mense, depressie, jyself, krisis, siekte, hartseer, wat ook al is – God is aan jou kant.

Dit help ons om dit te onthou en daaraan vas te hou selfs al lyk dit of ons gaan verloor, selfs al het die fluitjie geblaas en die telling wys ons hét verloor. Want jy sien, Jesus het reeds die oorwinning behaal – oor dood, sonde, pyn en lyding. Dit beteken dat ons die groter prentjie moet raaksien van God wat as oorwinnaar staan en dat …die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie (Rom 8: 18).

Dawid het verskeie kere in sy lewe met hierdie vrae geworstel. Dalk het hy makliker by ’n antwoord uitgekom omdat sy opponent telkens vir ander gode gebid het. Maar nie te min, was sy lewe gereeld in gevaar, en boonop was hy self nie altyd ewe onskuldig aan die situasies waarin hy homself bevind het nie. Ons kan egter by hom leer om aan God vas te hou, selfs in die moeilikste omstandighede.

Gebed

Ons dank U dat ons selfs in die moeilikste tye op u mag vertrou. Amen.

Ds Liza Jansen, Witbank-Suid

Saterdag 11 Julie – Die gebed van gelowiges

Handelinge 4: 23-31 Hulle is almal met die Heilige Gees vervul en het met vrymoedigheid die woord van God verkondig (Hand 4: 31b). Het julle dan nie geleer nie? ’n Vraag wat na beide kante aan die dissipels sowel as die priesterhoofde, die tempelwag en die Sadduseërs...

read more

Vrydag 10 Julie – Wat staan ons te doen?

Handelinge 2: 37-41; Jakobus 2: 14 en 26 By die aanhoor hiervan is die mense diep getref en hulle vra: Wat moet ons doen? (Hand 2: 37). In Jakobus 2: 14 word die vraag gevra hoe iemand kan beweer om te glo, maar dit word nie deur dade bevestig nie. Jakobus gebruik ook...

read more

Woensdag 8 Julie – Nou weet jy wat dit vra

Handelinge 2: 14-21; Filippense 2: 5 en 15-16 Al ooit gewonder wat op dees aarde maak jy hier? Wonder jy soms of jy jou skeppingsdoel verstaan en of jy enigsins naby daaraan kom om dit uit te leef? Dalk is die antwoord makliker as wat ons dink, maar die uitdagings kom...

read more

Maandag 6 Julie – Ek het jou nie gelos nie

Handelinge 1: 3-4; 2: 1-4 Moenie van Jerusalem af weggaan nie, maar bly wag op die gawe wat die Vader belowe het... (Hand 1: 4b). Ek dink nie daar is enige een van ons wat sal kan sê dat ons nog nooit bang was nie. Of dit is as gevolg van die vrees wat ontstaan...

read more