In ongeveer 200 nC was daar ’n man genaamd Lucius wat in die arena van Pergamum ’n stryd tussen swaardvegters (gladiators) bygewoon het. Hy het nie nodig gehad om na ’n plek in die stadion te soek nie. Sy sitplek was reeds bespreek.
Argeoloë het in die arena van Pergamum ’n aantal sitplekke ontdek met die name van spesifieke mense daarop. Hieraan is dit duidelik dat daardie sitplekke persoonlik vir spesifieke mense gereserveer is en dat daardie sitplekke aan iemand in persoon behoort het.
Die verpersoonlike sitplekke
Die arena waar dié sitplek met Lucius se naam daarop gekry is, is ’n plek wat volgens ’n kleiner model van die Colosseum in Rome gebou is. In die reël het die gesiene en vername mense gesit in ’n bepaalde deel van die arena wat vir hooggeplaastes ingerig is. Daardie sitplekke is ook só versier dat enigiemand kon sien dat dit vir belangrike mense uit die hoër sosiale klas gereserveer is. Die sitplekke van daardie mense is in die reël ook van sagte kussings voorsien.
Die groot verrassing in die ondersoek na die arena is dat daar ook ander sitplekke is waarop individue se name uitgegriffel is. Dié sitplekke het ook uit ’n netjiese klip- of betonkonstruksie bestaan. Lucius se naam is op een van daardie klipbanke gekry. Volgens die manier waarop sy naam daarop geskryf is, is dit duidelik dat hierdie sitplek persoonlik vir Lucius gereserveer is.
Benewens Lucius se naam, is daar ook ander name wat op klipbanke geskryf is. Van die name sluit in Alexandros en Agathopousse. Die mense vir wie hierdie sitplekke gereserveer is, se name is almal in Grieks geskryf. Die plek waar die klipbanke gevind is, blyk ook beter tipe sitplekke te wees. Dit beteken dat die mense wie se name op die banke uitgekrap is, ook van hoër aansien was en dus seker gemaak het dat hul plekke gereserveer is. Of hulle vir hierdie reservering betaal het, soos wat ’n mens vir ’n seisoenkaartjie of losie in ’n moderne konteks sou betaal, is nie seker nie. ’n Saak wat wél duidelik is, is dat daardie sitplek aan iemand persoonlik behoort het. ’n Mens kan jou dit maklik voorstel dat enigiemand anders dit nie moes waag om daar te gaan probeer sit nie.

Die klipbank met Lucius se naam in Grieks daarop
In géén geval is vrouename gekry nie. Almal was mansname. Dit beteken nie dat vroue by sulke gevegte verbied was nie, maar slegs dat dié soort attraksie eerder ’n manlike belangstelling was.
Argeoloë was verras om te ontdek dat in Pergamum, wat ’n belangrike rol in die Romeinse Ryk gespeel het en waar eerder Latynse inskripsies verwag is, die name op die sitplekke in Grieks geskryf is. Die verklaring daarvoor is eintlik baie eenvoudig. Voordat Pergamum ’n rol in die Romeinse kultuur gespeel het, was dié stad ’n prominente Griekse stad. In ’n stadium was Pergamum die hoofstad van die Hellenistiese Attalidiese dinastie.
Die arena kon minstens 25 000 toeskouers huisves, maar kon met goeie beplanning tot soveel as 50 000 mense akkommodeer. Die arena is opgerig om met die amfiteaters in Efese en Smirna te kon meeding. Die arena in Pergamum was gedurende die tweede eeu ’n gewilde plek om gladiator- en dieregevegte aan te bied.
Aanvanklik het die gladiatorgevegte tussen professionele swaardvegters plaasgevind. Gevegte met diere het ook aanvanklik tussen professionele jagters en die diere plaasgevind. Hierdie arenagevegte is later onder die Romeinse Ryk verder uitgebrei. Hulle het toe slawe, oorlogsgevangenes en kriminele misdadigers in die arena gegooi om die toeskouers in bloedige gevegte te vermaak.
Die plek is ook gebruik om openbare teregstellings te laat plaasvind, of om buit wat met oorloë op land of gevegte op see gebuit is, te vertoon. ’n Ander baie besondere ontwikkeling in die arena is ’n grag wat aangelê is en waarin bote ingebring kon word en die bemanning in gevegte betrokke kon raak.
Dood en die doodmaak van mense en diere het onder die Romeinse Ryk in ’n spektakel van verwronge vermaak ontaard. Hierdie vermaak is aan die mense voorgehou as ’n geregverdigde wyse in die Romeinse reg om die gode te vereer. Dié vertonings het dus onvermydelik ook gepaard gegaan met rituele en mitologiese voorstellings.
Die Groot Altaar In Pergamum
Pergamum is in die Bybel bekend as die derde gemeente aan wie ’n brief van die Here gerig is in die boek Openbaring. Die brief wat die gemeente gekry het, het gelui dat Jesus gesê het: Ek weet waar jy woon, daar waar die troon van Satan is. Jy hou egter aan my Naam vas. Jy het selfs nie jou geloof in My verloën nie, in die dae toe Antipas, my betroubare getuie, doodgemaak is daar by julle, waar die Satan woon (Op. 2: 13, AFR2020).
Die verwysing na die troon van Satan het simbolies verwys na die Romeinse Ryk wat weerstand teen die aanbidding van Christus gehad het. Johannes se verwysing na die troon van Satan was meer as net gewone beeldspraak. In sy verwysing na die troon van Satan het sy vinger ook direk gewys na die Groot Altaar wat in Pergamum gestaan het.
Die Groot Altaar is aan die suidelike kant van die stad vir die god van genesing, Asklepios, gebou. Die beeldhouwerk op die altaar beeld ’n mitologiese stryd tussen die Griekse gode en die Reuse uit. Die Reuse was wrede en onsterflike krygers wat die Griekse gode aangeval het. Die Griekse gode kon die Reuse slegs met die hulp van ’n sterfling, Herakles, verslaan. Herakles is gebore uit die verhouding tussen ’n aardse vrou en ’n god. Volgens die mite is die Reuse verslaan en het die Griekse gode daarna voortbestaan.
Hierdie mite het later die simbool geword om mense wat ander gode aanbid het, te beskryf. Dié mense van daardie tyd het hierdie uitdrukking goed verstaan. Die bestaan van ander gode en dat daar aan hulle geoffer is, was vir sowel die Jode as Christene ’n groot probleem.
Antipas is by die plek van Satan in Pergamum vermoor, omdat hy geweier het om Christus te vervloek, Zeus te dien en die keiser as god te verheerlik.
(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)