Vir eeue lank is gereken dat die Kodeks van Hammurabi die basis gevorm het van die wette in die Ou Testament. In baie opsigte is dit seker nog so, maar geleerdes is deesdae meer geneig om die wette in die Ou Testament te verstaan as ’n appèl op die wette van Hammurabi.

’n Stele (regop plat pilaar/steen) wat ’n groot invloed gehad het op die samestelling van baie wette en wetboeke in die Ou Nabye Oosterse lande, is ’n 2,25 meter hoë granietnaald wat bekend is as die Kodeks van Hammurabi. Dié wette het selfs ’n groot invloed gehad op wette wat in die Ou Testamentiese wetboeke voorkom.

Die granietstele van Hammurabi

Die Kodeks van Hammurabi is ou Babiloniese wette wat gedurende die tyd van ongeveer 1755 tot 1750 vC geskryf is. Hierdie wette is die langste en mees georganiseerde teks wat nóg in die Ou Nabye Ooste gevind is. Die taal waarin die wette geskryf is, is ’n Ou Babiloniese dialek wat bekendstaan as Akkadies.

Die wette op sigself word gedateer uit die regeringstyd van koning Hammurabi, wat die sesde koning van die Eerste Dinastie van Babilon was.

Die stele is in 1901 herontdek tussen die ruïnes van die paleis in Susa, in die moderne Iran, nadat dit as oorlogsbuit daarheen geneem is 600 jaar nadat die stele geskep is. Die teks word al vir meer as ’n millennium deur Mesopotamiese kundiges bestudeer. Die stele sélf word tans in die Louvre Museum in Parys bewaar.

Heelbo op die stele word ’n toneel uitgebeeld waar Hammurabi voor die songod Sjamasj staan, terwyl die god op sy troon sit. Die Babiloniërs het Sjamasj ook as die god van geregtigheid gedien. [Foto: Die Kodeks van Hammurabi in die Louvre Museum in Parys met die toneel van Hammurabi wat voor die songod Sjamasj verskyn waar die god op sy troon sit en sy wette aan die koning gee. Onder die toneel is 4 130 reëls in Akkadiese spykerskrif waarin al die wette uiteengesit is. Die wette was bedoel om in die gemeenskap ’n etiek van wedersydse respek te vestig. In totaal is 282 wette opgestel. © Louvre Museum, Parys]

’n Vyfde van die 4 130 reëls is ’n proloog en epiloog in poëtiese styl wat vertel dat Hammurabi die reëls wat op die naald aangebring is, van die gode ontvang het om te voorkom dat mense in magsposisies die armes en weerloses sal uitbuit. Die res van die inhoud, dus viervyfdes van die teks, vorm die wette wat uitgevaardig is.

Die wette volg ’n formuleringstruktuur wat bekendstaan as kasuïstiese wette. ’n Kasuïstiese wet is in voorwaardelike sinne saamgestel en sê: …as jy dít doen … sál die volgende met jou gebeur. Dié wette dek letterlik elke spektrum van die samelewing in kriminele wette, familiereg, eiendomsreg, handelswette, die reg van mense in verskillende professies, en die behandeling van slawe.

Tussen die kasuïstiese wette is daar ook ’n klompie apodiktiese wette wat as die sogenaamde lex talionis bekend is. Dié wette is veral vir hul oog vir ’n oog- en tand vir ’n tand-beginsel bekend.

Status voor die reg

Die wette vereis na alle kante van elke party dat die gemeenskap teenoor mekaar verantwoordelikheid sal aanvaar. In die oog vir ’n oog- en tand vir ’n tand-beginsel word die waarskuwing duidelik gestel: As jy iemand sy oog of tand gaan kos, het hy die reg om jou ook jóú oog of tand te laat kos.

Dié reël geld ook vir die kinders van die partye wat daardeur geraak word. In Wet 229 word byvoorbeeld bepaal dat as iemand se huis op sy eienaar ineenstort en hy daardeur dood is, moet die man wat daardie huis gebou het, ook doodgemaak word. Dié saak word in die volgende reël (Wet 230) verder uitgebou. As die ineenstorting van die huis die lewe van die eienaar se seun kos, moet die bouer se seun dan ook doodgemaak word.

’n Aspek wat sterk opval in die toepassing van die wette, is dat nie almal gelyk was voor die wet nie. Mense met verskillende beroepe, ouderdom, geslag en status se oortredinge is verskillend beoordeel. So byvoorbeeld is ’n slaaf nie oor dieselfde kam geskeer as ’n vryburger nie. ’n Slaaf is nie persoonlik sélf vir sy verlies vergoed nie. Sy eienaar het die vergoeding ontvang.

Die etiek wat sterk opval in die reëls, is dat die inhoud van die wette baie beslis is om die eer van mense te beskerm en te keer dat hulle deur ander verneder of uitgebuit word.

Opvallend aan die wette is die hoeveelheid geweld waarmee die strawwe gepaardgaan. Lyfstraf, gedwonge arbeid, die verlies van ledemate en selfs die doodmaak van oortreders is nie ongewoon nie. Die bedoeling is nie om wreedheid en onmenslikheid te beskerm nie, maar om die gemeenskap daarvan bewus te maak om mekaar wedersyds met respek te behandel.

Die toepassing van die wette moet verstaan word vanuit die posisie waar die individu staan. Dus, vanuit die slaankant of die ontvangkant van die oortreding. Die wette gaan nie daaroor dat iemand die reg het om ander te slaan wanneer hy geslaan word nie, maar andersom. As jy weet wat die gevolge van ’n oortreding is, word jy dus deur die wet gedissiplineer om nié die oortreding te pleeg nie. Dit beteken dat voordat jy slaan, jy daaraan herinner moet word wat die vergelding van jou optrede sal behels.

Die bevolking van Ou Babilonië het bestaan uit baie rasse en nasies wat in verskillende stede gebly het. Elke stad het dus uit ’n groot aantal andersoortige bevolkingsgroepe bestaan. Ten einde vrede in die Ou Babiloniese Ryk te verkry, was hierdie wette dus noodsaaklik om orde en vrede te handhaaf.

 

(Individuele skrywers dra self verantwoordelikheid vir die feitelike inhoud van en beskouings in hul artikels.)