Maandag 14 September – God is onmeetbaar
Psalm 19: 2-7
Ons het al oor die see uitgestaar op ’n helder dag of die sonsondergang deur die Wildtuin se bome aanskou. Of een of ander natuurramp- of verskynsel wat ’n indruk op ons gemaak het. Laat dit ons anders oor God dink? En indien wel, hoe? Daar is verskeie maniere hoe ’n mens grootheid kan meet. Hoogte, breedte, lengte, afstand, gewig, ensovoorts. Maar al hierdie eenhede – kilogramme, tonne, kilometers, ligjare – kan ’n mens ook net so ver bring. Die meetbare heelal vertel vir ons iets oor die ONMEETBARE Skepper God wat alles gemaak het!
Soos wat die son se lig elke dag elke deeltjie van die aarde verlig, soos wat die reëndruppels die aarde natmaak en die maan se strale die nag verlig so word die boodskap van God se grootheid verkondig – niks ontkom aan sy gloed nie! Dag en nag, jaar vir jaar, eeu vir eeu vertel die hele skepping tot in elke uithoek van die heelal dieselfde verhaal: God is onmeetbaar groot en almagtig.
Maar hoekom vergeet ons dit dan so gou? Ek dink dit is omdat ons meeste van die tyd so besig is met al die dinge van die lewe dat ons oë selde oop is om God se grootheid raak te sien. Dat ons so besig is met ons eie goed dat ons vir God miskyk. Dis dan wat ons snaakse en verkeerde dinge aanvang en vergeet van sy genade en sy sorg en sy goedheid en grootheid. Dit is dan wanneer ons vergeet hoe totaal en al afhanklik ons van Hom is. Ons moet in die gewoonte kom om gereeld stil te staan en regtig om ons rond te kyk en weer God se grootheid te beleef. Dis altyd daar, oral.
Gebed
Here, gee asseblief dat ons elke dag U grootheid rondom ons sal raaksien. Amen.
Ds Liza Jansen, Witbank-Suid
Donderdag 11 Junie – Om die Here te volg, is ’n tree in die regte rigting
Jona 1: 1-16 Jesus het deur sy Heilige Gees vir ons kosbare gawes gegee, maar hoe gebruik ek die Here se gawes in my daaglikse lewe? Kom ons leer vandag ’n belangrike les by Jona. Die Here het vir Jona ’n opdrag gegee, maar hy wou dit nie doen nie. Die mense van...
Woensdag 10 Junie – Kom ek stop die afwaartse spiraal
Matteus 5: 1-12 Soms lees ons die Bybel en ons is eintlik ’n bietjie onseker oor presies wat die Here van ons verwag. Ander kere voel dit of daar ’n groot gaping is tussen dit wat ons in die Bybel lees en hoe ons alledaagse lewens lyk. Kom ons kyk vandag na nog ’n...
Dinsdag 9 Junie – Soms raak sukses ’n bedreiging
Matteus 5: 1-12 Ons leer vandag verder uit die saligsprekinge in Jesus se bergrede. Ons kyk na ’n praktiese probleem in ons eie lewens, hoekom ons soms sukkel om mekaar te vind en dan leer ons by Jesus hoe ons eerder moet optree. In vers 7 lees ons dat Jesus sê dat...
Maandag 8 Junie – Om altyd reg te wil wees, kom teen ’n prys!
Matteus 5: 1-12 Ons het gister begin lees aan Jesus se bergprediking en gesien dat dit vandag nog relevant is. Vandag kyk ons na nog ’n alledaagse probleem en wat ons daaroor by Jesus kan leer. In vers 6 lees ons dat ons honger en dors moet wees na dit wat reg is. As...
Sondag 7 Junie – Jesus kom sit vandag voor my en Hy wil my ook leer
Matteus 5: 1-12 In hierdie tyd van die kerklike jaar fokus ons op die werk van die Heilige Gees. Daarom gaan ons vir ’n paar dae kyk hoe die Gees my in geloof kan help met alledaagse en gewone probleme. Matteus 5-7 is Jesus se bergrede, dit is sy belangrikste preek....
Saterdag 6 Junie – My prentjie van God: God as deurlopende Openbaring
Johannes 16: 5-15 Ek het nog baie dinge om vir julle te sê, maar julle kan dit nie nou dra nie. (Joh 16: 12). Jesus sê vir sy dissipels dat Hy binnekort van hulle af weggaan – en dat dit eintlik tot hulle voordeel is. Want eers dan wanneer die Gees van waarheid kom,...